[go: nahoru, domu]

Gaan na inhoud

Helena Hettema

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
(Aangestuur vanaf Hellena Hettema)
Helena Hettema
Gebore21 Desember 1962
Beroep(e)Sangeres, liedjieskrywer, aktrise, stemkunstenaar, regisseuse
Webwerfhelenahettema.com

Helena Hettema (* 21 Desember 1962) is 'n Suid-Afrikaanse aktrise, sangeres en liedjieskrywer, wat ook in Frans, Vlaams, Italiaans en Nederlands sing. Sy sing ook kabaret.[1] Sy het die temalied van die TV-reeks, Sonkring, self geskryf en gesing. Sy is die dogter van Jan Hettema.[2][3][4]

Loopbaan

[wysig | wysig bron]

Hettema matrikuleer met onderskeidings in Engels en Afrikaans aan die Pretoria High School for Girls, en verwerf later ‘n BA (Drama) graad aan die Universiteit van Pretoria.

Sy word gekies uit dramastudente van regoor Suid-Afrika om vir Truk (die Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste) op te tree by die Staatsteater in Pretoria. Sy vertolk die rol van Lyndall in 'n verwerking van Olive Schreiner se roman, “Story of an African Farm”, en Lady Macbeth vir Pact Playwork, wat vir matriekleerlinge aangebied is. Later is sy werksaam by EAPAC (Eersterust Performing Arts) en vertolk rolle in “Hamlet” en in 'n verwerking van John Steinbeck se “Of Mice and Men”, albei onder regie van Anthony Wilson.

By Truk werk sy onder die regie van bekendes soos Alwyn Swart, Billy Egan en Dieter Reible, en saam met beroemde akteurs soos Cobus Rossouw, Elize Cawood en Eric Nobbs.

As vryskutkunstenaar werk sy later saam met Kate Normington en Clive Scott in “Pirates of Penzance” (Johannesburg Civic Theatre) (1986) en speel in “Sunrise City” in die Market Theatre, Johannesburg, met choreografie deur Robyn Orlin.

As jong aktrise speel sy saam met Brümilda van Rensburg, Elize Cawood en Grethe Fox in “Arme Moordenaar”, onder regie van Stephan Bouwer. Helena het ook kameerolle vertolk in “Agter elke Man” saam met Steve Hofmeyr en in die Engels/Zulu reeks “In the Name of Love”.

Hoogtepunte in haar loopbaan

[wysig | wysig bron]

In 1987 vorm sy die groep “Triple Fair” saam met Lizanne Barnard van Marimba-faam en Evan Schoombie. Sy speel in “Victorian Songbook” onder leiding van Doug Thistlewhite met onder andere Shireen Hollier (1989. in Pretoria, Johannesburg en Port Elizabeth). In 1989 word sy lid van Anton Goosen se Kommissie van Ondersoek (ook met Lucas Maree en Karlien van Niekerk) en sing die solonommer ‘n Stadige Hand van hul plaat Winde van Verandering, voor 'n (Woodstock en Jakarandafees) gehoor van +-25 000. In 1990 sing sy die temalied vir die TV-reeks, “Dot en Kie”. In 1992 sing sy die temalied vir die TV-reeks, Sonkring en skryf ook die lirieke. Sy het opgree saam met die Kaapstadse Simfonieorkes in 1992 en 1993, met die musiek van Brel en Piaf in Frans in die Symphonic Pops-reeks. In 1993 vertolk sy die rol van Alma Mahler teenoor wyle Jonathan Rands (van “Jock of the Bushveld”-faam) en met Jana Cilliers as die muse, in die driemanstuk “Kindertotenlieder”, oor die lewe van Gustav Mahler by die Roodepoort Civic-teater. Sy verskyn ook onder die leiding van die dirigent Weiss Doubell en saam met Marita Napier, die bekende operasangeres. Die regie vind plaas onder Mario Schiess (bekend vir sy regie van “Report to an Academy” met Marius Weyers). Sy skryf ook ‘n satiriese lied oor die politieke partye op aanvraag deur SABC 2 (1993). In 1995 word Helena se eerste CD, Fools Gold, met haar groep Golden Fleece vrygestel. Die CD het gunstige kritiek uitgelok met vyf sterre. In 1996 tree sy op by die Il Frigo-fees in Bologna, Italië, en in 1997 by kabaretlokale in Londen en by Suid-Afrika Huis, Trafalgarplein op uitnodiging van die Suid-Afrikaanse ambassade. In 1997 volg haar tweede CD, “Jasmine Lament”, met baie van haar eie liedjies.

In 1998 word Helena Hettema Highlights vrygestel. Dit word genomineer vir n SAMA-toekenning in die afdeling Beste Afrikaanse Kontemporere CD,[5] en bevat 12 van Helena se eie liedjies wat handel oor maatskaplike kwessies soos armoede, die ekosisteem en “yuppies”. SABC 2 maak twee videos van Helena se oorspronklike liedjies: “Fools’ Gold”, wat handel oor armoede in die strate van Johannesburg, en “Touch of Green”. Laasgenoemde bevat lirieke in Sotho, Zoeloe, Afrikaans en Engelse, en handel oor die verval van die ekosisteem. In Julie 2000 is Dreaming, haar vierde CD, vrygestel. Beeld nomineer dit as die vierde beste CD van die jaar. Sy het ‘n paar snitte hiervan saam met die Magaliesberg Kinderkoor onder leiding van die gevierde pianis Alwyn van Heerden gesing. Haar produksie, The Bridge, debuteer by die KKNK 2001, saam met die pianis Alwyn van Heerden. Die produksie word genomineer vir twee FNB-Vita-toekennings in die kategorie “Best Performance in Musical Theatre Revue” en “Best Musical Revue Production”. Helena en pianis Alwyn van Heerden tree in 2001 op in Londen, Nederland en Belgie op uitnodiging van Ukkasie en die Zuid-Afrikaansche-Vlaamsche Instituut (2001).

In 2004 word haar sesde CD, “Divided Heart”, vrygestel en deur kritici met lof ontvang. Sy ontvang ook die Geraas/SABC 2 prys vir Beste Vroulike Kunstenaar. Sy ontvang The Herald Showtime Award solo artist van “The Herald” koerant in Port Elizabeth vir die uitvoering van “Divided Heart” in die Port Elkizabethse Operahuis – ander genomineerdes was onder andere Rory Rootenberg, Daniel Pascal en Rocco de Villiers. In Desember 2005 word sy genooi deur die Afspraak Afrikaans-radiostasie om in Nieu-Seeland as hoofkunstenaar tydens die “Potstokfees” op te tree in Napier, Hamilton en Christchurch. In 2006 word “Divas Divine”, haar sewende CD, vrygestel. In 2007 ontvang sy 'n laureaattoekenning van haar alma mater, die Universiteit van Pretoria, vir haar bydrae tot die kunste. In 2008 word haar gewilde dubbele Franse album, Spirit of Piaf and other great French Legends, op Sony BMG vrygestel. Dit is opgeneem saam met 25 musikante, insluitende Evert Snyman en die Soweto String Quartet. Van die stemwerk is opgeneem by Shaun Phillips se ateljee in Port Elizabeth.

In 2009 sing sy 'n duet saam met Thean Kotze en open die Huisgenoot Skouspel by Sun City vir Senwes. In 2010 stel sy 'n CD en DVD, “Helena Hettema Alive” vry, saam met pianis André Wessels en Nippy Cripwell op basviool by die Centurionteater, Pretoria. Hiervoor word sy vir ‘n tweede SAMA genomineer. In 2011 word sy genooi om in die Cadogan Hall, Londen, op te tree saam met pianis Elna van der Merwe en pianis/orrelis, Zorada Temmingh in die produksie  “Three Blondes out of Africa”.

In 2012 word haar CD, “Rooiwynliefde”, vrygestel by die Atterbury Teater, saam met pianis Andre Wessels, Mauritz Lotz op kitaar en David Jooste. Dit bevat nege van Hettemase se eie liedjies (in Afrikaans en Engels), asook werke uit die pen van liedjieskrywers soos Eugene Vermaak, Karen Zoid, Philip Nel en Bruno Andries. Dit bevat ook toonsettings van gedigte deur Eugene Marais, Toon van den Heever en I.D. du Plessis. In 2013 word sy genooi na die Nederlands/Afrikaanse Fees (Het Nederlandse fees voor Afrikaans) in Den Haag – saam met onder andere Emo Adams en Dawid Kramer. In 2014 word Hettema se CD, “Woord-Engel”, met lirieke deur Azette Wiesner en musiek deur Lieze Stassen, vrygestel in die Atterbury Teater, Pretoria. In 2015 verskyn sy op die stel van die sepie 7de Laan. Sy tree ook op in Madagaskar op uitnodiging van Suid-Afrikaanse ambassade in Antananarivo. [6]

In 2016 tree sy op in Harare, Zimbabwe by “The Venue”. In 2017 word Helena Hettema 21 + (haar 13de CD) vrygestel, ter viering van die meer as 21 jaar wat verloop het sedert die vrystelling van haar eerste CD, “Fools’ Gold” (1995). Die CD bevat heelwat nuwe snitte naas ouer materiaal, waarvan sommige liedjies nuut verwerk is.

Sy het in die volgende lande opgetree: Zimbabwe, Brittanje, België, Nederland, Italië, Nieu-Seeland, Madagaskar en Turkye.

Diskografie

[wysig | wysig bron]
  • Fool´s Gold, 1995
  • Jasmine Lament, 1997
  • Highlights, 1998
  • Dreaming, 2000
  • The Bridge, 2002
  • Divided Heart, 2004
  • Divas Divine - Inside Out, 2005
  • Spirit Of Piaf & Other Great French Legends (dubbel album), 2007
  • Alive, DVD en bonus CD, 2010
  • Rooiwynliefde, 2012
  • Woordengel, 2014
  • Spirit of Piaf (enkel album), 2015
  • Great French Legends (enkel album), 2015
  • Helena Hettema 21+, 2017

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. https://showme.co.za/pretoria/events-entertainment/helena-hettema-4/
  2. https://www.iol.co.za/news/south-africa/gauteng/springbok-rally-driver-cyclist-killed-by-robbers-2040159
  3. https://www.iol.co.za/motoring/motorsport/hettema-a-true-titan-of-sa-motorsport-2040345
  4. https://lig.co.za/ek-het-my-pa-se-moordenaars-vergewe-en-berusting-gevind-se-die-sangeres-helena-hettema/
  5. https://www.iol.co.za/entertainment/whats-on/helena-shows-her-heart-927172
  6. Hattingh, Mizanne (18 Februarie 2023). "Gemeenskap, Helena Hettema help om vir kinders 'n tuiste te skep". Maroela Media. Besoek op 24 Julie 2024.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]