[go: nahoru, domu]

Kimberley

stad in Noord-Kaap provinsie van Suid-Afrika

Kimberley is 'n stad in Suid-Afrika en die hoofstad van die Noord-Kaap met sowat 182 000 inwoners in 2008. Die stad verwerf in 1871 internasionale bekendheid danksy die ontdekking van 'n diamantveld. Die mynboubedrywighede, wat hier vinnig ontwikkel het, gee onder meer die aanleiding tot die industrialisering van Suid-Afrika. Kimberley maak op 2 September 1882 ook geskiedenis as die eerste stad in Suid-Afrika en die suidelike halfrond met gloeilamp-straatverligting.

Kimberley
Kimberley is in Noord-Kaap
Kimberley
Kimberley
Koördinate: 28°44′31″S 24°46′19″O / 28.74194°S 24.77194°O / -28.74194; 24.77194
LandVlag van Suid-Afrika Suid-Afrika
ProvinsieNoord-Kaap
DistriksmunisipaliteitFrances Baard
Plaaslike MunisipaliteitSol Plaatje
Bevolking
 • Totaal184 817
TydsoneUTC+2 (SAST)

Alhoewel die stad nie langs die belangrike toeristeroete van Suid-Afrika lê nie, is dit saam met Upington die poort na Suid-Afrika se "Wilde Weste" en na Namibië, met Namakwaland, die Kalahari-Gemsbokpark, die Augrabieswaterval en die Namibwoestyn met die Visrivier-canyon as die belangrikste toeristebestemmings.

Geskiedenis

 
Die Groot Gat

In 1866 het Erasmus Jacobs 'n klein wit klip naby die Oranjerivier, op die plaas De Kalk, naby Hopetown gevind. Die klip was 'n 21,25 karaat (4,25 g) diamant, wat die naam Eureka gekry het. Later is 'n groter 83,50 karaat (16,7 g) diamant by Colesbergkoppie gevind, die Ster van Suid-Afrika, en mynwerkers het in hulle duisende gearriveer. Daar is na hierdie plek as New Rush verwys. Delwery het hier onder ellendige omstandighede plaasgevind - die meeste mense het net oor armsalige hulle of tente beskik en is gepla deur hitte, vuiligheid, insekte en geweldpleging.

Die voortdurende magstryd en hebsug het nogtans 'n aantal merkwaardige mense voortgebring, wat in die ekonomiese geskiedenis van Suid-Afrika 'n beduidende rol sou speel: Cecil Rhodes, die seun van 'n Engelse vikaris, het hier die welvarendste en magtigste man op die vasteland van Afrika geword. Barney Barnato, 'n voormalige straathandelaar uit 'n Londense krotbuurt, het hier sy loopbaan as mynmagnaat en multimiljoenêr begin.

Delwery het veral by die Colesbergkoppie plaasgevind, maar die koppie is geleidelik weggedelf en staan nou bekend as die Groot Gat - die grootste gat in die wêreld wat met pik en graaf gemaak is. Die gat het 'n omvang van 1 600 meter, 'n diepte van 215 meter, 'n deursnee van 460 meter en 'n oppervlak van twaalf hektaar. In die tydperk tussen 1871 en 1914 is 2 722 kilogram of 14,5 miljoen karaat diamante gemyn en 25 miljoen ton aarde en gesteente verwyder. Die Groot Gat is vandag 'n opelugmuseum.

Gedurende 1873 is dit 'n nuwe naam gegee, Kimberley (vernoem na die Britse Sekretaris vir die Kolonie, die Graaf van Kimberley). Huise, strate en brûe is opgerig, en teen die eeuwisseling was Kimberley 'n bloeiende stad.

Suid-Afrika se eerste mynbouskool, wat in 1896 in Kimberley geopen is, is later na Johannesburg verskuif, waar dit tot die Universiteit van die Witwatersrand uitgebou is.

Die stad was gedurende die Tweede Vryheidsoorlog beleër deur die Boeremagte wat as die Beleg van Kimberley bekendstaan.

Infrastruktuur

 
'n Bordjie by die Groot Gat wat lees: "Indien alle diamante wat by die Kimberleymyn ontgin is versamel word, sal dit drie koekepanne soos hierdie kan vul".

Kimberley beskik oor 'n nasionale lughawe. Die stad is verbind met Johannesburg en Kaapstad met die N12 nasionale pad en met Bloemfontein met die N8 nasionale pad.

Besienswaardighede

  • Belgravia is die oudste woongebied in Kimberley en spog met pragtige woonhuise uit die 19de eeu.
  • Die Star of the West is moontlik die oudste kroeg in Suid-Afrika. 'n Barkruk, wat vir Sir Cecil Rhodes vervaardig is, kan hier nog steeds besigtig word.
  • Die kapel van Suster Henrietta Stockdale is in 1887 ter ere van dié bekende verpleegster opgerig. Danksy haar invloed was Suid-Afrika in 1891 die eerste land ter wêreld, wat met die amptelike registrasie van verpleegsters begin het.

Sien ook

Bronne

Eksterne skakels