[go: nahoru, domu]

Gaan na inhoud

Ludwig van Beethoven

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Ludwig van Beethoven (16 Desember 1770 - 26 Maart 1827), (* Bonn, Duitsland, † Wenen, Oostenryk)

Ludwig van Beethoven (1770–1827); Skildery van Joseph Karl Stieler, 1820
Ludwig van Beethoven se handtekening
Ludwig van Beethoven Standbeeld in Regensburgse Walhalla

Hy is in Bonn gebore. Sy grootvader, Lodewyk, het uit Mechelen na Bonn gegaan om daar kapelmeester te word. Sy vader, Johann, was tenoorsanger en het aan Beethoven sy eerste musiekonderrig gegee. Die hoboïs Pfeiffer en onder andere die kundige orrelis Neefe het dit voortgesit.

Lewe

Reeds in 1783 het Beethoven simbalis van die keurvorstelike kapel geword en bewondering gewek deur sy improvisasies. Origens het sy opvoeding veel te wense oorgelaat. Sy vader wou die geniale kind uitbuit en sy moeder, Maria Magdalena Keverich, het weinig invloed en beheer gehad. 'n Ligpunt vir hom was sy omgang met die hoogs beskaafde gesin Von Breuning. In 1787 het Beethoven na Wenen gereis, waar hy voor Mozart gespeel het. Sy moeder se siekte het hom egter tot terugkeer gedwing. Sy is kort daarna oorlede en die sorg vir die gesin het grotendeels op hom gerus. Hy het altis aan die Weense teater geword en het ook as kerkorrelis gewerk. Kennismaking met die jong graaf Waldstein het hom in 1792 weer na Wenen laat terugkeer om onder Haydn te studeer.

Beethoven het egter nie van laasgenoemde se onderrig gehou nie en het vir lesse na Albrechtsberger en Salieri gegaan. Hy het spoedig bekendheid verwerf as klavierspeler en ook as gevolg van sy kwistige lewenswyse. Hy het nou in die kringe van aristokratiese families soos Lichnowsky, Von Brunswick, Van Swieten en nog vele ander beweeg. In 1800 het Lichnowsky hom 'n jaargeld van 600 gulde toegeken. Hul verhouding is wel in 1806 tydelik onderbreek, maar toe Beethoven in 1808 'n aanbod kry van koning Jérôme van Wesfalen, het die vorste Lobkowitz en Kinsky hul verbind tot 'n lewenslange jaargeld van 4 000 gulde. In 1815, ná die dood van een van sy broers, het Beethoven die voog van sy neef Karl geword.

Ludwig van Beethoven se Geboortehuis in Bonn

Intussen is Beethoven getref deur steeds toenemende hardhorendheid wat ten slotte in volslae doofheid oorgegaan het. Bowendien het die sorg vir sy neef hom gekwel. 'n Hofgeding in 1820 het wel in Beethoven se voordeel geëindig, maar Karl het hom met ondankbaarheid beloon. Verskeie ander sake het gehelp om sy gesondheid te ondermyn en sedert September 1826 was hy ernstig siek. Op 26 Maart 1827 is hy oorlede en daarna begrawe in die Wahringer Friedhof, maar in 1888 is sy oorskot na die Zentralfriedhof oorgebring, waar dit rus langs dié van Schubert.

Beethoven behoort - net soos J S Bach en Mozart - tot die grootste meesters in die musiekwêreld. Bowenal is hy tot vandag die ongeëwenaarde meester van die instrumentale kuns (met nie minder nie as nege simfonieë vir orkes en kamermusiek). Sy styl het langsaam ontwikkel. In sy jeugwerke, wat nog grotendeels afhanklik van Haydn en Mozart was, het sy styl in sy eerste periode (1792 - ca 1800) reeds 'n baie persoonlike inslag gekry. Via 'n onrustige oorgangstydperk en die klassisisme van sy tweede periode (ca 1800-1817) het dit ontwikkel tot die deels pre-romantiese, deels abstrak-asketiese kuns van sy derde periode (1817-1827).

Namate sy idees groter geword het, het hy die oorgelewerde vorme uitgebrei. Sy doofheid het daartoe bygedra dat hy hom volkome aan sy eie visioene kon oorgee en dit omskep in 'n Eroïca of Missa Solemnis. Een nadeel was egter dat hy weinig voeling kon hou met tegniek, veral dié van die sangstem, met die gevolg dat hy vokaal soms prakties byna onuitvoerbare fragmente geskryf het (onder meer die slotkoor van die negende simfonie). In verhouding tot sy lewensduur het Beethoven betreklik min geskryf. Volgens nagelate komposisiesketse het hy moeilik gewerk en langsaam gevorder. Dat hy slegs een opera (Fidelio) voltooi het, is moontlik ook te wyte aan die gebrek aan 'n geskikte libretto.

Veral sedert die Eerste Wêreldoorlog is 'n groeiende verset merkbaar teen die oordrewe voorstellings van die sogenaamde Beethoven-mite (wat in die dae van die Romantiek bygedra het tot ongesonde kommentaar op sy komposisies).

Sien ook

Lys_van_komponiste, Grafiese tydlyn van klassieke komponiste