In 1281 het hy na die Goue Horde gegaan en die khan se toestemming gekry om sy ouer broer Dmitri as grootprins te vervang. Hy het met die prinse van Rostof en Jaroslawl saamgespan en Dmitri se land verwoes en sy hoofstad, Pereslawl, ingeneem.
Twee jaar later het Dmitri na Rusland teruggekeer. Hy is na die Swartsee, waar hy Nogai Khan, die grootste vyand van die wettige Goue Horde-khan, Teleboega, ontmoet het. Omdat hy sy mag in Rusland wou vergroot, het Nogai belowe om Dmitri te steun in sy stryd om weer die grootprins te word. Toe Andrei dit hoor, het hy afstand gedoen van Wladimir en Nowgorod en na Gorodets teruggekeer.
In 1285 het Andrei weer Mongoolse magte na Rusland gebring, maar hulle is deur Dmitri en sy bondgenote verdryf. In 1293 het Andrei eindelik daarin geslaag om die Mongole en die Russiese prinse te laat saamspan teen Dmitri. Dmitri wou nie meer die stryd teen sy broer voortsit nie en het in 1293 geabdikeer.
Selfs toe Andrei die grootprins van Wladimir was, het hy in Gorodets gewoon. In die laaste dekade van sy bewind het hy ’n stryd gevoer teen ’n bondgenootskap van Daniil van Moskou, Michail van Twer en Iwan van Pereslawl.