[go: nahoru, domu]

Gaan na inhoud

Los Angeles Angels

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Die Los Angeles Angels (voorheen die Los Angeles Angels of Anaheim) is 'n Amerikaanse professionele bofbalspan wat gebaseer is in die Los Angeles-gebied. Die Angels ding mee in Hoofligabofbal (MLB) as 'n lid van die Amerikaanse Liga (AL) se Westelike Divisie (AL-Wes). Die span speel sedert 1966 sy tuiswedstryde by Angel-stadion in Anaheim, Kalifornië.

Die franchise is in 1961 in Los Angeles gestig deur Gene Autry as een van MLB se eerste twee uitbreidingspanne, en die eerste wat in Kalifornië ontstaan het. Die Angels se naam is ontleen aan 'n vroeëre Los Angeles Angels-franchise wat in die "Pacific Coast League" (PCL) gespeel het, en was in Los Angeles gebaseer totdat dit in 1966 na Anaheim verhuis het. As gevolg van die skuif was die franchise bekend as die California Angels vanaf 1965 tot 1996 en die Anaheim Angels vanaf 1997 tot 2004. "Los Angeles" is in 2005 weer by die naam gevoeg, maar as gevolg van 'n huurooreenkoms met Anaheim wat vereis het dat die stad ook in die naam moes wees, was die franchise bekend as die Los Angeles Angels of Anaheim tot 2015. Die huidige Los Angeles Angels-naam het tydens die volgende seisoen in gebruik gekom.

Die Angels was gedurende hul eerste 40 bestaansjare 'n middelmatige franchise, maar het wel drie divisietitels gewen en kon spog met Heldesaal-spelers soos Nolan Ryan, Rod Carew en Reggie Jackson. Onder bestuurder Mike Scioscia het die Angels uiteindelik in 2002 hul eerste "Wild Card"-plek beklink, en hierdie momentum gebruik om die 2002-Wêreldsreeks te wen, hul enigste kampioenskapsverskyning tot op datum. Die Angels is saam met die Washington Nationals die enigste twee MLB-franchises wat in hul enigste verskyning in die Wêreldreeks kon triomfeer. Oor die volgende sewe jaar onder Scioscia se bestuur het die Angels vyf divisietitels gewen, aangevuur deur hul enigste Heldesaal-speler, Vladimir Guerrero. Die Angels het ook 'n toename in bywoning ervaar, wat die franchise konsekwent onder die top venues in bywoningsgetalle in MLB geplaas het. Die bofbalklub het sedert 2012 sy internasionale aansien verhoog met die ondertekening van Albert Pujols en die opkoms van supersterre soos Mike Trout en Shohei Ohtani, wat kumulatief vyf AL MVP (Mees Waardevolle Speler) toekennings saam met die span gewen het; ten spyte hiervan het die Angels sedert 2014 nie weer in die uitkloprondtes verskyn nie.


Aan die einde van die 2023-seisoen het die Angels 'n algehele wen-verloor-gelykop rekord gehad van 4,958 wedstryde gewen, 5,016 wedstryde verloor en 3 wedstryde gelykop gespeel ('n wenpesentasie van .497).[1]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "Los Angeles Angels Team History & Encyclopedia". Baseball-Reference.com (in Engels). Besoek op 2 Januarie 2024.

Nog leesstof

[wysig | wysig bron]
  • Bisheff, Steve. Tales from the Angels Dugout: The Championship Season and Other Great Angels Stories. Sports Publishing L.L.C., 2003. ISBN 1-58261-685-X.
  • 2005 Angels Information Guide.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]