[go: nahoru, domu]

Gaan na inhoud

Iwan IV van Rusland

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Iwan IV
Tsaar van die hele Rusland
'n Gesigsrekonstruksie van Iwan die Verskriklike, deur Michail Gerassimof
'n Gesigsrekonstruksie van Iwan die Verskriklike, deur Michail Gerassimof.
Dinastie Rjoerik
Bewind 1547-1584
Kroning 16 Januarie 1547
Volle naam Iwan Wasilijewitsj
Gebore 25 Augustus 1530
Moskou
Gesterf 18 Maart 1584
Moskou
Voorganger Wasili III
Opvolger Fjodor I
Gade Anastasia Romanowna Zacharina-Joerijewa en vyf ander
Vader Wasili III
Moeder Jelena Glinskaja

Iwan IV Wasilijewitsj (Russies: Иван IV Васильевич) (25 Augustus 1530 - 18 Maart 1584) was van 1533 tot 1547 grootprins van Moskowië en van 1547 tot met sy dood die eerste amptelike tsaar van Rusland.[1] Hy is beter bekend as Iwan die Verskriklike (Russies: Иван Грозный, letterlik Iwan die Ontsagwekkende of Formidabele).[2][3] Iwan se bewind is gekenmerk deur Rusland se oorgang van 'n Middeleeuse staat tot 'n ryk, maar teen 'n ontsaglike prys vir sy volk en vir die land se ekonomie op lang termyn.

Iwan was die oudste seun van Wasili III by sy tweede vrou, Jelena Glinskaja, en 'n kleinseun van Iwan III. Hy het sy pa ná dié se dood opgevolg toe hy drie jaar oud was. 'n Groep hervormers het in 1547 om Iwan byeengekom en hom as tsaar gekroon toe hy 16 jaar oud was. In die vroeë jare van sy bewind het Iwan saam met 'n groep hervormers bekend as die Verkose Raad regeer en die Zjemski Sobor as 'n nuwe vergadering gestig. Hy het ook die regskode hersien en hervormings ingestel, insluitende elemente van plaaslike selfregering. Verder het hy die eerste Russiese staande mag, die streltsi, gestig. Iwan het die khanate Kazan en Astrachan verower en Rusland se gebied aansienlik uitgebrei.

Nadat hy sy mag gekonsolideer het, het Iwan ontslae geraak van sy raadgewers in die Verkose Raad en die Lyflandse Oorlog van 1558 tot 1583 begin. Dit het Rusland verwoes weens 'n onvermoë om beheer oor Lyfland te neem en die verlies van Ingrië, maar hom in staat gestel om groter outokratiese beheer oor die Russiese adel te kry. Hy het dit gewelddadige reggekry met behulp van Rusland se eerste politieke polisie, die opritsjniki. Die latere jare van Iwan se bewind is gekenmerk deur die slagting van Nowgorod en die afbrand van Moskou deur die Tartare. Iwan het ook kulturele verbeterings aangebring, soos die invoer van die eerste rolpers, en verskeie prosesse begin wat vir eeue sou duur, soos die verbetering van bande met ander Europese state, veral Engeland, oorloë teen die Ottomaanse Ryk en die geleidelike oorwinning van Siberië.

Kontemporêre bronne het uiteenlopende menings van Iwan se komplekse persoonlikheid gegee. Hy is beskryf as intelligent en toegewy, maar ook geneig tot paranoia, woede en oomblikke van geestelike onstabiliteit, wat met die ouderdom vererger het.[4][5][6] Historici glo hy het sy oudste seun en erfgenaam, Iwan Iwanowitsj,[7] in 'n woedeaanval vermoor, en hy was dalk ook verantwoordelik vir die miskraam van laasgenoemde se ongebore kind. Dit het veroorsaak dat sy jongste seun, die polities onbekwame Fjodor Iwanowitsj, die troon geërf het – 'n man wie se bewind en kinderlose dood regstreeks gelei het tot die einde van die Rjoerik-dinastie en die begin van die Tyd van Beroeringe.

Vroeë bewind[wysig | wysig bron]

Iwan word op driejarige ouderdom grootprins van Moskowië en word op 16 Januarie 1547, op sestien, gekroon as tsaar. Hy beywer hom aanvanklik vir vreedsame hervormings en vernuwings. Hy voer die boekdrukkuns in, onderwerp die kerk aan die staat en standaardiseer rituele en verordeninge.

Iwan soek nuwe handelsmoontlikhede en stel die hawe van Archangelsk aan die Witsee vir Engelse handelaars oop. In die ooste lyf hy die kanate van Kazan en Astrachan in en ter viering van die verowering van Kazan laat hy die Sint Basilius-katedraal in Moskou bou.

Hy stel ook ’n wet in wat die bewegingsvryheid van boere beperk – ’n belangrikse stap in die rigting van die latere lyfeienskap.

Latere bewind[wysig | wysig bron]

In 1564 skep hy die Opritsjnina, ’n deel van sy ryk wat onder sy onmiddellike bestuur val en deur sy geheime polisie, die Opritsjniki, beheer word.

Iwan die Verskriklike en die seun wat hy per ongeluk doodgeslaan het. Skildery deur Ilja Repin.

Algaande word sy bewind minder suksesvol. Hy wil die land in ’n westelike rigting uitbrei, na die Baltiese lande, en raak gou betrokke in ’n oorlog met Swede, die Pools-Litause Gemenebes en die Duitse Orde. Hierdie sogenaamde Lyflandse Oorlog sleep 22 jaar voort en ruïneer die Russiese ekonomie en die leër, maar lewer verder niks op nie. Prins Andrei Koerbski, sy beste raadgewer en vriend, loop na Pole oor en boonop sterf sy vrou, Anastasia Romanowna. Iwan glo die bojare het sy geliefde vrou vermoor. Hy kom nie hierdie slag te bowe nie en sy gesondheid begin agteruitgaan. Hy gaan geestelik agteruit en word paranoïes en gewelddadig. Sy geheime polisie ontwikkel in ’n moorddadige terreurbende wat links en regs onder die adel en die volk moor.

Ioannes Basilius Magnus Imperator Russic, Dux Moscovic, Abraham Ortelius, 1574

Die onsekerheid lei tot die verarming en ontvolking van baie gebiede. So is Iwan byvoorbeeld in 1570 besorg oor die strategiese waarde van Weliki Nowgorod in die oorlog met die Duitse Orde en Swede en hy gee die bevel dat die stad verwoes word. Die opritsjniki plunder die stad en vermoor duisende mense.

In 1581 slaan Iwan glo sy oudste seun, Iwan Iwanowitsj, se vrou so erg oor haar (volgens hom) onbetaamlike kleredrag dat sy ’n miskraam kry. Toe sy seun hom konfronteer, slaan hy dié dood in ’n woedebui. Iwan sr. treur tot met sy dood oor dié voorval. Ná sy dood word hy opgevolg deur sy verstandelik gestremde seun Fjodor. Sy tweede oudste oorlewende seun, Dmitri Iwanowitsj, is toe maar twee jaar oud en word kort daarna vermoor.

Tydens Fjodor se bewind lê die regte mag in die hande van sy swaer en voog, die bojaar Boris Godoenof.

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. "Ivan IV the Terrible, Tsar of Russia". Renaissance and Reformation. 13 Januarie 2014. doi:10.1093/OBO/9780195399301-0099.
  2. "Иван Васильевич Грозный". www.hrono.ru. Besoek op 20 Augustus 2021.
  3. ""Иван Грозный — первый русский модернист"". Год Литературы (in Russies). Besoek op 20 Augustus 2021.
  4. Shvidkovskiĭ, Dmitriĭ Olegovich (2007) Russian Architecture and the West. Yale University Press. p. 147. ISBN 0300109121.
  5. Yanov, p. 208
  6. Del Testa, David W. (2001) Government Leaders, Military Rulers and Political Activists. Greenwood Publishing Group. p. 91. ISBN 1573561533
  7. Perrie & Pavlov 2014, p. 192.